Thursday, May 20, 2010

29487910

Die St. Peter Claver Kerksaal se vloere bewe behoorlik soos die Mamelodi-balletleerders die laaste spronge van hulle Échappés sautés to second and changements oefening voltooi.
En soos daar elke Maandag- en Vrydagmiddag tussen 14:00 en 17:00 in die kerksaal geoefen word, is dit moeilik om te glo dat hier soms kerkbasaar gehou word. Om die waarheid te sê, dié saal kan sedert 2006 se opgraderings maklik verwar word met ‘n professionele balletskool s’n, veral as dit krioel van trippelende toontjies.
Maar hier word alles behalwe gespeel. Me. Hanlie Wydeman, balletonderwyseres van die Suid-Afrikaanse Balletteater-Uitreik (SABT-Uitreik) in Mamelodi, roep die kinders streng binne sodat hulle met die eerste klas kan begin. Sy sê dat alhoewel die kinders haar hart se punt is, dit nodig is om streng op te tree sodat hulle die doelwit om die balleteksamen deur te kom, kan bereik.
Dit is vanjaar die SABT-Uitreik se 15de verjaarsdag. Oorspronklik die idee van wyle Mariliez Dubury (SABT onderwyser) is dit in 1995 deur Dirk Badenhorst en Margaret Kgasi tot stand gebring.
”Sy is onmisbaar,” vertel Wydeman van Kgasi se rol in die totstandkoming en instandhouding van die SABT-Uitreik in Mamelodi. Dit is grootliks aan haar te danke dat die kinders vandag hier is.
Oor hoe die SABT-Uitreik op die been gebring is, sê Kgasi net: “Dis ‘n wonderwerk.”
Sy tref weekliks die nodige reëlings om die kinders betyds by die balletklasse te kry en dit is ook aan haar te danke dat die kinders in die Kerksaal hulle balletonderrig ontvang.
Die Mamelodi SABT-Uitreik klas het tans 45 kinders wat wissel tussen die ouderdomme van drie en 21. Alhoewel die inisiatief in Mamelodi ontstaan het, het dit intussen tot in Alexandra, Soweto, Katlehong, Melville en Eersterus uitgebrei.
Die SABT-Uitreik strek egter veel verder as net twee balletklasse per week. Volgens Me. Samantha Saevitzon, mediawoordvoerder van die SABT, is hul ideaal om die kinders bloot te stel aan wat ‘n loopbaan in die uitvoerende kunste alles behels. Hulle hoop om sodoende die kinders bekend te stel aan verskeie werksgeleenthede in die teater: nie net as balletdanser nie, maar ook as verhoogbestuurder, stelontwerper, kostuumontwerper, en so meer.
Dit is daarom dat die SABT waar moontlik die werklikheid van die balletwêreld aan die kinders ten toon stel. Sommige van die kinders kry byvoorbeeld die geleentheid om oudisies van die SABT by te woon met die oog daarop om ‘n rol in ‘n balletopvoering soos “Die Neutekraker” los te slaan. Wydeman wys trots een van haar ouer seunstudente uit, wat van tyd tot tyd in Staatsteateropvoerings dans.
Die beste balletstudente word ook uitgenooi om deel te hê aan die jaarlikse Winterskool waar hulle die geleentheid kry om by van die beste te leer. Vanjaar sal hulle die kans kry om by Angela Malan en Anya Carstens, beide hoofdansers van die SABT, kers op te steek.
Balletliefhebbers is egter verlede jaar onrustig gelaat met die SABT se aankondiging Novembermaand dat dié nie-winsgewende organisasie sonder die nodige befondsing gedwing sou word om hulle deure te sluit. Die goeie nuus is egter dat die grootskaalse SABT-fondsinsamelingsveldtog daarin geslaag het om die nodige borge te bekom om die SABT te laat voortleef.
Die SABT-Uitreik bly egter in moeilike situasie aangesien die SABT steeds hulle volle gewig moet ingooi om die teater op sy tone te hou. Die nuutste verwikkeling is dat die SABT-Uitreike in Mamelodi en Eersterus nou op Wydeman se naam oorgedra is.
MacDonald benadruk egter dat die SABT-Uitreike steeds deel van die SABT vorm en dat die twee nie amptelik van mekaar geskei is nie.

Die hele Uitreik se kinders is byvoorbeeld op 30 Maart 2010 met busse (befonds deur die SABT) na die Staatsteater om “Swan Lake” te sien.
SABT-Uitreik verteenwoordiger, Candace Kock, is van mening dat die SABT waarskynlik dieselfde met “Carmen”, die SABT-produksie wat in Augustus op die planke kom en dansers tans aan werk, sal doen.
Wydeman sê dat dit bloot vir haar beteken dat sy voortaan meer onafhanklik van die SABT sal moet optree. Sy voel ook dat dit tog tot ‘n groot mate die verantwoordelikheid na haar verskuif, maar sy bly optimisties.
Verder bied die SABT die SABT-Uitreik se jaareindfunksie aan. Wydeman dink egter reeds vooruit: indien dit nie hierdie jaar vir die SABT moontlik sal wees om ‘n teater aan hulle beskikbaar te stel nie, sal sy die konsert in die St. Peter Claver Kerksaal sal reël. Dit beskik oor 'n klein verhogie en het heelwat plek vir al die trotse ouers en naasbestaandes.
Waar presies die SABT die kinders oor tien of selfs twintig jaar sien, droom Saevitzon groot. Sy sê dat as sy dinge vooruit kon loop, sy hoop dat die kinders almal eendag vir die SABT sal kom oudisie en deel sal word van die SABT-familie. Sy besef egter dat dit idealisties is, aangesien sommige opgeraap sal word deur ander of oorsese maatskappye en sommige nie eers balletdansers sal word nie.
Wydeman is egter van mening dat elke kind wat op ‘n tyd in haar/sy lewe ballet gedoen het iets daarvan met hom/haar sal saamneem. Hetsy dit poise en dissipline is of selfs net ‘n gemeenskaplike liefde vir dié kultuurvorm.
‘n Graad 7-meisiestudent bewys dat dit wel met haar die geval is. Wanneer sy gevra word wat sy die meeste van ballet geniet, antwoord sy sonder om te skroom, “Alles! Alles!”
Saevitzon sê dat ballet ‘n gemeenskaplike kultuurvorm is - mense van oral heen kan dit verstaan ongeag hulle taal of kultuur. Wat vir haar sê dat Ballet die mag het om grense te oorkom en brûe te bou.









No comments:

Post a Comment