Tuesday, May 18, 2010

29452270 Annemarie Bijker

Note; the school on which Annemarie wrote her story and where she did her photography practical is not the same school.


By die Tshegofatsong Spesiale skool in Mamelodi, werk die gemeenskap en die skool saam om vir ‘n groter deel van die gemeenskap ʼn finansiële uitkoms te bied. Groentetuine en naaldwerkprojekte by hierdie skool sorg vir die inkomste van vroue uit die gemeenskap.
In die personeelkamer som die woorde vanuit ʼn goue raam die skool se missie op: “Om leerders met spesiale behoeftes te identifiseer en te ontwikkel sodat hulle onafhanklik en aanvaar kan word.” Die Tshegofatsong Skool is die enigste skool in Mamelodi wat vir leerlinge met verstandelike probleme toegerus is.
Op ʼn gewone skooldag, sit ʼn groepie vroue agter naaimasjiene in een van die klaskamers. Die materiaal, skêre en garings lê besaai oor die tafel. Die resultaat van hul arbeid word is skoolbroeke, rokkies en kantgordyne. ’n Handjievol vroue uit die gemeenskap bestuur die naaldwerkprojek wat Tirisano, wat ‘saamwerk’ beteken, genoem word. Hulle werk op bestellings wat meestal vanuit hul eie gemeenskap kom. Op hierdie manier verdien die vroue hul inkomste. “Anders sit ons net by die huis,” verduidelik een van hulle. Hulle kom elke weeksdag skool toe om hul dae voor die naaimasjiene deur te bring.
Die Tirisano projek is die vroue se eie inisiatief. Vir leerders aan die Tshegofatsong Skool wat goed vaar in hul naaldwerkklasse, is daar geleentheid om na hul skoolloopbaan hier aan te sluit.
Buite in die son, aan die rand van die skoolperseel, staan vroue gebukkende in die grond en skoffel. Hier, net agter die skool se versorgde groen gras van die sokkerveld, is vroue besig om grondboontjies te oes. In die groentetuin is grondboontjies, pampoene, spinasie en slaaikoppe geplant.
Grace Pumuge sit ʼn entjie van die groentetuin op ʼn omgekeerde krat en werk. Sy vul plastieksakkies met gelyke hoeveelhede grondboontjies. “Ons verkoop dit op die straat. Die geld is nie baie nie, maar dit hou ons aan die gang.” Sy is een uit die groep vroue wat hul bestaan uit hierdie groentetuin maak.
ʼn Jaar vantevore was Tshegofatsong nog besiger met ʼn bakkery en ʼn baksteenmaakprojek. Hierdie projekte is geloods om leerlinge nuwe vaardighede aan te leer sodat hulle eendag in hul werksomstandighede sal kan funksioneer. Dit het egter doodgeloop. Volgens me. Pauline Magagula, hoof van die senior departement van die skool, is die tekort aan finansies die hoofrede vir die staking van die projekte. Die leerlinge is steeds betrokke by verskeie praktiese klasse soos tuinmaak, leer- en kralewerk.
“Given a chance I can” is die leuse van die Tshegofatsong skool. Dié kans geld nie net vir die skoolleerders nie. Tshegofatsong Skool bied aan verskillende lede van die gemeenskap die kans om êrens te behoort en hard te werk.



























































1 comment: